Coenie de Villiers is gebore en getoë in Bloemfontein, waar hy skoolgaan en sy na-graadse studies voltooi. Hy was dosent in Mediakunde en Kommunikasiewetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat, en het homself later toegespits op ‘n loopbaan as omroeper, programbestuurder en bemarker in die radiowese. Hy het verder in Bemarking studeer, en was onder meer Hoof van Openbare Aangeleenthede vir een van Suid-Afrika se grootse goudmyn-maatskappye.
In sy rol as bemarker was hy BD van Eliance Media in die Bidvest-groep, ‘n direkteur van O2 Communication, asook ‘n direkteur van BrandWealth Strategiese Bemarking – ‘n maatskappy waarvan hy ‘n stigterslid was – vir sewe jaar. Hy was ook ‘n direkteur van SVK Holdings, die maatskappy wat onder meer staalkonstruksie en logistiek vir Hitachi (Suid-Afrika) lewer. Hy konsulteer as ‘n onafhanklike strategiese bemarker en doen werk vir verskeie groot maatskappye. Hy is die wenner van ‘n Pendoring-toekenning vir uitnemende reklame. Hy was ook Direkteur: Kultuur vir die ATKV. Hy het vir bykans tien jaar as direkteur op die direksie van SAMRO gedien, en was ‘n trustee op die raad van POSA.
As televisieaanbieder was hy vir ‘n totaal van 17 jaar die ankeraanbieder van die vlagskip kykNet-joernaalprogram op DSTV, Kwêla. Hy het menigvuldige toekennings ontvang as uitsaaier en televisie-aanbieder, onder meer ‘n Artes-toekenning as beste radio-uitsaaier en ses Veertjie-toekennings vir uitsaaivaardigheid in die televisie-medium. Hy was die aanbieder en vervaardiger van die hoogs-aangeskrewe dokumentêre reeks ‘n Ander Wêreld wat in 2015 op kykNET uitgesaai is.
Hy is bekend as een van Suid-Afrika se beste uitvoerende liedjieskrywers, en het reeds 19 albums van sy eie werk vrygestel. Sy eerste albums is in die vorige bedeling deur ‘n speelverbod beperk.
Hy het dwarsoor die wêreld opgetree, en musikante soos die Amerikaanse saksofoon-meester Dave Koz, Sibongile Khumalo, Hugh Masekela, en Jonathan Butler het reeds by hom op sy albums aangesluit. Afrikaanse legendes soos Laurika Rauch, David Kramer, Lucas Maree en Die Heuwels Fantasties het by velerlei geleenthede saam met hom opgetree. Tydens Oktober 2013 is hy uitgenooi om deel te hê aan die internasionale Dave Koz jazz-toer in Europa, en het die verhoog gedeel met wêreldsterre soos Gerald Albright, Michael McDonald, Kirk Whalum en Sheila E.
Hy het menige toekenning vir sy musiek en skryfkuns ontvang, onder meer drie SAMA-toekennings, twee VONK-toekennings, en in 2009, die Eeufeesmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die kunste. Die Kovsie-Alumni-bond ken die Cum Laude-toekenning aan hom toe vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. Hy is ook die ontvanger van die Huisgenoot-Skouspel Lewenslange-erkenningstoekenning, sowel as die KKNK-Kruispunt-toekenning vir ‘n leeftyd van brûe bou tussen kulture in Suid-Afrika. In 2015 is hy deur die Nederlandse legende Herman van Veen genooi om saam met hom in daardie land op te tree. Ook in 2015 ontvang hy die Innibos-kunstefees se lewenstoekenning vir sy bydrae tot die kunste. Sy opera, Maximilian, word in 2009 in Oostenryk opgevoer. ‘n Versameling van sy lirieke oor die afgelope 40 jaar, Hartlangs, verskyn in 2012 met ‘n voorwoord deur Hennie Aucamp. Hy is beskermheer van die MES-organisasie wat omsien na haweloses en straatkinders in die stadskern van Johannesburg.
Hy is getroud met Dr Ria de Villiers, en het drie volwasse kinders.