Vrysteldatum: 14 Junie 2018
‘n Album van Coenie de Villiers is altyd ‘n gebeurtenis, en Pure Coenie is geen uitsondering nie. Daar is min skywers en musikante wat liriek kan skryf wat kolf in die liga van ‘n Koos du Plessis of ‘n Lucas Maree, maar Coenie doen dit weer eens op hierdie vrystelling. Daarmee saam smee hy die musikaliteit van ‘n klassieke strykkwartet met die gatskop-energie van ‘n Francois van Coke. Min kan kan hom dit nadoen, maar Coenie de Villiers kán, en hy doen dit met mening op hierdie, sy een-en-twintigste album.
“Ek wou weer terugkeer na my wortels as ‘n liedjieskrywer,” sê Coenie. “As ‘n mens terugkyk oor die jare, het dit so maklik gelyk om goed – en maklik! – te skryf as ‘n sewentienjarige jongeling. ‘n Mens dink nie regtig oor die proses as jy so jonk is nie …” Hy wou graag met hierdie album terugkeer na daardie eerlikheid van dekades gelede. “Ek wou liedjies skryf wat volkome eerlik en trou aan myself is,” meen hy.
En hy het inderdaad die musiek en liriek van dertien van die liedjies op hierdie veertiensnit-album geskryf. “Goeie musiek en liriek is gewoon goeie musiek en liriek,” sê Coenie. “Dit maak nie saak in watter taal dit is nie: dit spreek jou aan op ‘n vlak wat maak dat jy dit verstáán, al is dit nie in jou moedertaal nie. Dis hoekom ek ook ‘n paar liedjies in Engels op die album opgeneem het.”
Maar dis die Afrikaans wat jou bybly. En daarmee saam die krag van die musiek en die verwerkings, baie daarvan deur kitaarlegende Mauritz Lotz. “Mauritz en ek werk reeds ‘n paar dekades lank saam,” vertel Coenie. “Maar vir my is hierdie die n geleentheid waar hy vrye teuels gegee is om te doen wat hy die die heel beste kan doen: produksie en verwerkings.”
Laasgenoemde word duidelik wanneer ‘n mens vir die eerste keer na die album luister. Op ‘n vreemde manier word die verskillende liedjies deur ‘n eenvormige klank saamgesnoer, en tog is hulle uiteenlopend wat inhoud betref. “As skrywer en musikant is daar geen kompromis op hierdie album nie,” vertel Coenie. “Ons het nie ‘n enkele kortpad gekies nie – en die album is geheel en al baby-baby vry!”
Die eerste liedjies op die album kyk na binne en is introspektief. “Ek is nou ouer, en ek probeer om ónder die vel in te skryf,” sê Coenie. Dit verklaar liriek soos Julie, Kaap St Francis, Die Laaste Maal, The Heart en Die Kers. Maar Coenie skryf ook uit sy persoonlike ervaring: “Die liedjie Plaas is ‘n intieme kyk na die droogte in ons land en na boere wat elke dag bid vir reen. Ek kom uit ‘n familie van boere, en dis nie maklik nie,” meen hy.
Coenie kyk ook met deernis na die ouderdom. “Op die lied Vir Oulaas vertel ek die verhaal van ‘n oubaas in ‘n tehuis vir bejaardes wat – ondanks die eenselwigheid van elke dag – saans sy oorlede vrou se serpie oor die bedlamp gooi en die naald laat sak op sy ou viniel-plate. Dan, as hy met sy skaduwee dans, vra hy sy vrou – wat jare lank reeds oorlede is – om weer met hom te dans …”
Rocker Francois van Coke sluit by Coenie aan vir ‘n volkome live en unplugged weergawe van die tydlose treffer Hillbrow deur Johannes Kerkorrel. “Ons het eenvoudig gaan sit in die ateljee en getel een-twee-drie-vier, en toe begin speel en sing. Wat jy hoor, is wat ons in daardie oomblik opgeneem het.” Hierdie snit is geskiedenis: dis die Musiek-en-Liriek beweging en die stem van gatskop-Afrikaans wat gesamentlik hulde bring aan sekerlik die grootste gees van die Voëlvry-beweging.
Met Liedjie vir Luca bring Coenie de Villiers nogmaals hulde aan sy ou vriend en geesgenoot Lucas Maree. “Lucas het nooit die voorreg gehad om sy kleindogter Luca te ontmoet nie,” vertel hy. “Ek staan maar in vir hom wat – so vermoed ek – op die volmaan sit en kyk wat ons alles doen! Ek het hierdie wiegeliedjie namens hom aan sy kleindogter geskryf.”
Die verrassings begin wérklik met die volgende snit, Eendag. “Ek dink die drie mees opwindende stemme in die land behoort aan die jong musikante Joshua na die Reën, Brandon October en Leon Gropp. Ek wou graag saam met hierdie drieluik van talent werk, maar op ‘n kontra-intuïtiewe manier: hoe sou ons klink as ons doodgewoon ná ‘n lang dag ‘n liedjie van versugting na vrede sou sing? Jy kan op hierdie snit (met ‘n manjefieke verwerking deur Peter McLea) hoor hoe ongelooflik goed hierdie sangers wérklik is.”
Thando is ‘n instrumentale snit (dit beteken “liefde” in Xhosa) wat ‘n intieme uitvoering is van musikante wat saamspeel sonder ‘n enkele stukkie elektronika of masjien. Marcus Wyatt op trompet verleen aan die snit ‘n verleidelike melankolie.
Met die tweeluik-liedere The Dinner trek Coenie werklik die krane oop. “Hierdie liedere – of moet ek liefs sê vertellings – vertel die storie van ‘n denkbeeldige aandete waar baie van die groot geeste in die geskiedenis byeen kom. Hulle is saam verbysterd oor wat met die wêreld – veral in die huidige Amerika – gebeur.” En die verteller is niemand minder as die legendariese akteur Dr John Kani nie. “John is gewoon ‘n wêreld-ster,” vertel Coenie. “Jy moet weet as jy ‘n sleutelrol in The Black Panther speel, is jy bo-op die kruin van jou loopbaan! Dis ‘n groot voorreg dat hy ingewillig het om hierdie storie te vertel.”
Die lied is naatloos saamgevoeg met ‘n instrumentale vertolking van die einste vertelling deur die wêreldberoemde Odeion Strykkwartet, die klassieke strykkwartet verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
En dan is daar natuurlik die legendariese Vicky My African Dream Sampson, wat haar stem laat hoor op die snit Walls. “Die wêreld probeer vir die afgelope eeu mure afbreek tussen rasse en generasies en geslagte,” vertel Coenie. “En nou beleef ons ‘n tyd waar al hierdie mure weer van meet af aan gebou word – en nie net met baksteen en sement nie.”
Vicky Sampson bewys opnuut waarom sy een van die grootste stemme in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is met haar vertolking van Coenie se lied. Dis veral die einde van die snit – ‘n samevoeging van duisende stemme en vuvuzelas – wat in die oor én die gemoed bly vassteek.
Die bonussnit op die album is Coenie de Villiers se lied Tatoe wat hy en Francois van Coke saam uitvoer. “Ek het ‘n groot respek vir my vriend Francois se talent, en die energie waarmee hy sy kuns beoefen. Dit was só lekker om saam met hom te werk – hoe kan ‘n mens nie in jou noppies wees as jy saam met jou een van jou eie liedjies sing nie?,” lag Coenie.
Pure Coenie is ‘n grensverskuiwende album, en nie net in die Suid-Afrikaanse mark nie. Dis ‘n album wat verteenwoordigend is van die breë samelewing, en ‘n album wat dit doen met ‘n vaardigheid, passie en oorgawe wat min in ons land gehoor word.