In die nuwe kykNET dokumentêre reeks ‘n Ander Wêreld – met Coenie, nooi gesoute en bekroonde aanbieder Coenie de Villiers kykers om plekke en mense te besoek wat hulle moontlik nie normaalweg sou doen nie. Hierdie onbekende wêrelde verg nie dat kykers op ‘n vliegtuig klim om na ‘n ander land te reis nie: dis ‘n “ander” wêreld wat vlak onder die oppervlak van ons daaglikse bestaan lê. Die program stel ons voor aan mense wat hulle harte oopmaak oor hulle eie bestaanswerklikheid. Dis dikwels ‘n wêreld waaroor ‘n mens wonder, maar waaraan ‘n mens min aandag gee.