Musiek en Liriek: Coenie de Villiers (SAMRO 2008)
‘n Pomelomaan hang varsgemunt
oor die strate van my jeug
Ek is kaalvoet en dra kortbroek
My wêreld is vol deug
Daar is orde in my heelal
– my ganse woonbuurt wit –
Sondae gaan ek kerk toe
Waar ek psalms sing en bid
Daar was ‘n Sputnik in die hemel
En die townships was vergete
Was ek regtig so onskuldig,
Het ‘n kind dan geen gewete nie?
Die verlede is ‘n ander land
Oor die Rubicon, aan die ander kant
Lyk my lewe soveel anders
Lyk my lewe soveel anders
Die straatlig maak ‘n kegel
Waar miljoene motte draai
Ons steel vrugte by die buurman
Wat (vermoed ek) goed kan raai
Dat die kinders in sy donker tuin
sy appelkose skaai
Maar daar’s geen heinings om sy huis nie
Geen alarms wat verraai (nie)
Daar was ‘n Sputnik in die hemel
En die townships was vergete
Was ek regtig so onskuldig,
Het ‘n kind dan geen gewete nie?
Die verlede is ‘n ander land
Oor die Rubicon, aan die ander kant
Lyk my lewe soveel anders
Lyk my lewe soveel anders
Ons hoor iemand skiet ‘n president
Maar dis ver en raak ons min
Ek speel eenvoudig met my Dinky toys
In ‘n stad wat ek versin
Waar almal net soos ek lyk
Ons is almal Afrikaans
Daar is reëls hier in my dorpie
Dis ‘n wêreld vol balans
Daar was ‘n Sputnik in die hemel
En die townships was vergete
Was ek regtig so onskuldig,
Het ‘n kind dan geen gewete nie?
Die verlede is ‘n ander land
Oor die Rubicon, aan die ander kant
Lyk my lewe soveel anders
Lyk my lewe soveel anders