Musiek en liriek: Coenie de Villiers © 2016
Die lug lê laag oor Londen
Die reën tik teen die ruite
Hier binne is dit warm,
Maar die wind sny koud daar buite
‘n Huis hier in die vreemde
Is klein, en koud, en grys
Daar’s kerse, boeke, brood en wyn
Maar in my drome is ek tuis
Hier word dit vroeg-vroeg donker
As die skemer tuis nog draal
En my pa die laaste beeste
Dalk kom toemaak in die kraal
Die hart meet afstand anders –
Die verlang maak alles ver
Hier soek jy saans die Suiderkruis
Maar dit bly ‘n vreemde ster
Daar’s ‘n see-perdjie van skulpe
Wat kom uit Jeffreysbaai
En die foto van ‘n visser
Met sy bote langs die kaai
Daar’s ‘n kaartjie met ‘n Kersboom
En ‘n boodskap van my Ma:
“Kom huis toe, dit word somer”
En daar is groete van my Pa
Afrika lê baie ver
Ek mis sy halala
Ek mis sy warm sonskyn
Dis al wat ek voor vra
(Ek mis sy warm sonskyn
Dis al wat ek voor vra)
Die son gaan hier verlore
En die lug is altyd grou
Ja, die vlaktes van die Vrystaat
Is al wat ek onthou
as die verlange my kom beetpak
Hier waar ek woon in Notting Hill:
Dis nie ‘n holte vir die voet nie
Dis ‘n plek wat my verniel
Daar’s ‘n armband van krale
Wat hang in die kombuis
Dis ‘n geskenk uit Isipingo
Dit herhinner aan my huis
Ek lees Opperman en Breyten
En só sny ek die spoor
met woorde deur die donker
Tot ek my land kan hoor
Afrika lê baie ver
Ek mis sy halala
Ek mis sy warm sonskyn
Dis al wat ek voor vra
(Ek mis sy warm sonskyn
Dis al wat ek voor vra)