Musiek: Gabriel Faure, Pavane – Opus 50
Liriek: Coenie de Villiers ©SAMRO 2016
Miskien
Maak ek ‘n haikoe net uit klank
En bind ‘n strik van woorde óm …
Miskien
Word dit ‘n groter simfonie
Of dalk bly dit net kort, en stom …
Miskien
Weef ek uit note ‘n kombers
En dalk, wie weet, as dit kom reën
Dra jy dit, al is dit net ‘n lied –
soos jy, is ek ook dalk alleen.
Dalk stuur ek vir jou ‘n vers wat in die donker blink
Want taal, wat in die swart en diepste duister klink
Is ook – al rym dit goed – tog net ‘n bietjie bang,
Kan verlang …
Miskien
is daar ‘n kamer met ‘n spieël;
‘n kind wat stadig daarin draai
Miskien
Dans ons ‘n baie ou pavane
maar word ons deur musiek verraai
Miskien
Is dít wat ek en jy in glo
Bloot kole in ‘n nanag vuur;
musiek en woorde – dalk die liefde self –
word leuens in hierdie laatnag uur …
Dalk stuur ek vir jou ‘n vers wat in die donker blink
Want taal, wat in die swart en diepste duister klink
Is ook – al rym dit goed -tog net ‘n bietjie bang,
Kan verlang …
Miskien
Maak ek ‘n haikoe net uit klank
En bind ‘n strik van woorde óm …
Miskien
Word dit ‘n groter simfonie
Of dalk bly dit net kort, en stom …
Miskien
Weef ek uit note ‘n kombers
En dalk, wie weet, as dit kom reën
Dra jy dit, al is dit net ‘n lied –
soos jy, is ek ook dalk alleen (Herhaal tot einde)