Musiek & liriek: Coenie de Villiers (SAMRO, 2010)
Die betongewelf van die kapel
Word sy hemel, word sy hel
Waar hy daagliks met penseel
Sy visie van die heelal deel
Daar’s gerubs en orakels,
profete, en hy self
in dié hemel ingeskilder,
tuur af uit die gewelf
Snags drup kerse warm was
In sy oë, op sy kwas
Wat elke tint van elke kleur
Uit sy hande laat gebeur
Daar’s die roesrooi van Toskane
Daar’s die blou van hierdie lug.
Daar is groen soos nooit tevore
Hier teen die kerk se rug
En in die middel, daar reik God
Sy vinger na die mensdom uit,
na Adam, wat nou skaam en naak,
skugter uit sy slaap ontwaak
Die Skepper blaas na eeue
Steeds lewe in dié man
Wat namens ons wat opkyk
Sy asem blý ontvang
En kardinale wat sou opkyk
Ver benede op die vloer
Wéét hul sien ‘n wonderwerk,
word dadelik meegevoer
Deur die maestro wat uit pleister
En pigment ‘n hemel maak
Wat die Ware Meester naboots,
Wat iedereen diep raak
En in die middel, daar reik God
Sy vinger na die mensdom uit,
na Adam, wat nou skaam en naak,
skugter uit sy slaap ontwaak
Die Skepper blaas na eeue
Steeds lewe in dié man
Wat namens ons wat opkyk
Sy asem blý ontvang

