Flamenco

Langs ‘n steeg in ou Valencia

Aan die sonkant van die straat

Is ‘n kroeg wat laataand oopmaak

Waar mens drink en mens kan praat

 

Daar is kerse op die tafels

Daar is wyn in elke  glas

Hulle voel antisipasie

Hulle weet sy gaan verras

 

Ja, almal wag gespanne

Op haar koms om kwart oor tien

Hulle’s hier om haar ontwil

Om die flamenco weer te sien

 

Om te hoor hoe klop haar hakke

‘n ritme op die vloer

Waar sy die volgepakte kroeg

In ekstase mee kan voer

 

Die vuur in die flamenco

Die vlam in haar kitaar

Die hitte van ‘n stiergeveg

Die corrida se gevaar

Die klap van kastanjette

En ‘n son wat bloedig brand

Oor haar hare ‘n mantilla

Van handgeweefte kant

Sy hou my so gevange

Terwyl sy om die tafel dans

Laat my glo sy sien my raak

Laat my glo ek staan ‘n kans

 

Die kurwes van haar lyf

Is gehul in swart tafsy

In die applous wat sy ontketen

Kan jy hoor sy word beny

 

Vir die passie in haar oë

Vir haar soepel lyf wat fier

Deur die pas van die flamenco

Herinner aan die stier

 

Wat moedig teen die matador

Die stryd oplaas verloor

En ‘n swaard getooi met blomme

Sy edel hart deurboor

 

Die laaste note eindig

In ‘n crescendo van kitaar

En al ken hul die flamenco

Glo hul die dans is alles waar

 

Die vuur in die flamenco

Die vlam in haar kitaar

Die hitte van ‘n stiergeveg

Die corrida se gevaar

Die klap van kastanjette

En ‘n son wat bloedig brand

Oor haar hare ‘n mantilla

Van handgeweefte kant

Sy hou my so gevange

Terwyl sy om die tafel dans

Laat my glo sy sien my raak

Laat my glo ek staan ‘n kans