Die Lied van Hout

Musiek en liriek:  Coenie de Villiers

 

‘n Den groei soet, en saggies

Sy lied is jonk, en vars

Hy groei vinnig-vinnig son toe

En jy hóór sy gom en hars

 

Kiaat is heelwat sterker

Sy grein is fyn, en dig

Ja, hy dwing die vakman boontoe

‘n fyn hand word verplig

 

Hout het mos sy eie lied

Hy sing as jy hom skaaf (x2)

En saag jy teen die grein in,

Word hout oneindig braaf (X2)

Hy verset hom teen die lem

Wat teen sy grein in beur

Wat die ritme van sy kwaste 

Vir ewig kom verbeur;

Wat die vlam van Sy ontwerp

Vir altyd kom versteur –

Ja, wat die Skrynwerker se Groot Ontwerp

Vir altyd kom versteur

 

Oliewenhout het vlamme

Wat om die kwaste strek

Sy lied is lig, én donker

Voor hy ‘n meubelstuk voltrek

 

Geelhout? Ja, wat kan ek sê

Dit rus in duisend vloere

Wat strek deur huise, wonings

Óm die mure se kontoere

 

Hout het mos sy eie lied

Hy sing as jy hom skaaf (x2)

En saag jy teen die grein in,

Word hout oneindig braaf (X2)

Hy verset hom teen die lem

Wat teen sy grein in beur

Wat die ritme van sy kwaste 

Vir ewig kom verbeur;

Wat die vlam van Sy ontwerp

Vir altyd kom versteur –

Ja, wat die Skrynwerker se Groot Ontwerp

Vir altyd kom versteur