Soggens staan sy op
En maak dan roosterbrood en tee
Eet staan-staan by die venster
Voor sy die potplant water gee
Sy sluit die deur noukeurig
Maar die posbus bly steeds leeg
Daar’s ’n herfswind in die strate
Dit word reeds winter in die steeg
Haar lessenaar is netjies
Daar’s net ’n nommer op die deur
Sy doen nougeset haar werk
Daar is min hier wat haar steur
Die nag is barmhartig
Hy kan geheime goed verbloem
Al die goed waaroor die mense
Jou in die lig verdoem
Die waarheid wat sy wegsteek,
Die geraamte in haar kas
Is toegevou in sneespapier:
Dis die trourok in haar kas
’n Skyfiemaan hang oor die stad
Die Skepper knip ’n nael
Die deernis van die donker
Beskerm haar verhaal
Haar middagete eet sy
Op ’n bankie in die park
Sy voer die duiwe wat bly fladder
Voor die man wat blare hark
Vanaand maak sy ’n bordjie sop
Wat sy dan voor die TV eet
Daar’s niemand wat haar pla nie
Daar is min wat van haar weet
Haar nagroom ruik na rose
Sy doof die lig om kwart voor tien
Dink die enkelbed waarin sy lê
Is al wat sy verdien
Die nag is barmhartig
Hy kan geheime goed verbloem
Al die goed waaroor mense
Jou in die lig verdoem
Die waarheid wat sy wegsteek
Die geraamte in haar kas
Is toegevou in sneespapier:
Dis die trourok in haar tas
’n Skyfiemaan hang oor die stad
Die Skepper knip ’n nael
Die deernis van die donker
Beskerm haar verhaal

