Musiek en liriek: Coenie de Villiers
Op reis deur verre lande
Soek ek opnuut my land se lug
Ek soek wolke op die horison
Die wind wat iewers sug
Deur die blare van ‘n bos
Langs die plaasdam van my jeug
Al reis ek altoos verder
Dis net herinnerings wat deug
Op reis deur verre lande
Hoor ek deur die stadsrumoer
Hoe ‘n bosduif iewers nes maak,
In ‘n doringboom kom koer
Ek ruik reen wat skielik opslaan
Uit ‘n stofpad deur die veld
En ek sien ‘n goue skemer
Wat die nag se koms vermeld
Want in my hart woon daar ‘n plaas
Met ‘n windpomp en ‘n dam
Met lusern in ‘n skuur
Met skape wat kom lam
In die die koelte van ‘n klipmuur
Wat deur my drome sny
En hoe meer my voete reis
Dwing my hart my om te bly
Op reis deur verre lande
Is die winters dikwels wit
En ek soek ‘n opslagsomer
‘n vloer van perskepit
In ‘n ou-ou skemer opstal
Waar ‘n lamp vertroostend brand
En al reis jy deur die vreemde
Vind jou kompas steeds jou land
Want in my hart woon daar ‘n plaas
Met ‘n windpomp en ‘n dam
Met lusern in ‘n skuur
Met skape wat kom lam
In die die koelte van ‘n klipmuur
Wat deur my drome sny
En hoe meer my voete reis
Dwing my hart my om te bly

