Camera Obscura

My hart is soos ‘n kamera:

Obskuur, maar nietemin

‘n lens wat alles raaksien

Wat kan haat en kan bemin

 

My hart is dikwels heilig

Dog soms is hy profaan

Sy roete is onvoorspelbaar

Dis geheim waarheen hy gaan

 

My hart klop dus gesplyt

Tussen liefde en verwyt,

Tussen goed en tussen kwaad

Tussen trou, en selfs verraad

My hart swaai soos ‘n pendulum

Dis min dat hy verstil

Dis min dat hy tot rus kom

Om die liefde se ontwil

 

My hart is altyd soekend

Al weet hy hy’s reeds tuis

En al vra hy duisend vrae

Word hy weinig verder wys

 

My hart wil als takseer

Hy wil inkyk in my siel

Maar dit wat hy daar raakloop

Kan soms mateloos verniel

 

My hart klop dus gesplyt

Tussen liefde en verwyt,

Tussen goed en tussen kwaad

Tussen trou, en selfs verraad

My hart swaai soos ‘n pendulum

Dis min dat hy verstil

Dis min dat hy tot rus kom

Om die liefde se ontwil