Coenie de Villiers (©SAMRO/2016)
Versier my graf met skulpe
wat jy optel op die strand;
pak hul netjies uit in rye,
maak patrone op die sand
Ek’s gebore uit die branders,
ek’s gebore uit die see;
En dit wat hy nou neem,
het hy eenmaal ook gegee
Alles wat ek hier onthou
word deel van die koraal;
Deel van hierdie oseaan,
van die see se katedraal
Ek bewaar reeds vyf dekades
‘n see wat min vergeef;
‘n see wat soms net gee,
wat oor die skulpgruis vee
Ek ken die reën se sluier,
ek ken die son se brand;
Ek weet waar woon die visse
hier aan die see se rand
Nou roei ek oor ‘n dieper see
en ‘n Bootsman roei nou mee
ja, ek roei nie meer alleen nie,
oor hierdie vreemde weë
Hier is daar geen vis nie
Die kreef is lank reeds weg,
en waar ek eens die stuurman was,
Word ek opeens nou kneg

